ToetenTaal

Afrikaanse Taalkuns

In 2016 het ons begin met tuisonderrig en het ‘n internasionale ingesteldheid begin ontwikkel. Dit was maklik om opwindende kurrikulum te vind vir al die vakke, want ons kon wêreldwyd soek en honderde alternatiewe oorweeg. Maar vir Afrikaans was ons beperk tot wat vir Suid-Afrikaanse skole ontwikkel is, en ek het gesukkel om ‘n taalprogram te vind wat in ons spesifieke behoeftes voorsien: iets wat heel eerste ‘n groot liefde vir ons taal en kultuur koester. ‘n Innemende en interaktiewe program wat waarborg om kinders opgewonde te maak oor Afrikaans, sodat dit hul belangstelling prikkel oor alles wat in ons mooi land bestaan. Iets wat hulle motiveer om te woeker met hul Afrikaanse erfenis, sodat hulle eendag in ‘n vreemde land hul identiteit sal behou.

Ek het my ma (wat vir 30 jaar lank ‘n taalonderwyseres was) vir raad gevra, en saam het ons die ToetenTaal Taalkunste-reeks ontwikkel. Vandag is daar honderde gesinne in Suid-Afrika en sy buurlande wat die boeke suksesvol gebruik in hul tuisskole, en ons het planne om dit op ander kontinente beskikbaar te maak, sowel as vir ander vakgebiede soos wêreldgeskiedenis en natuurlike wetenskap.

In die boeke leer kinders hoe om ‘n kamp na die Weskus te beplan, eie resepte te ontwikkel wat op erfeniskos gebaseer is, saam met Laurika Rauch haar “Ek Het ‘n Huisie By Die See” te sing, en om ‘n sportkommentator te wees wat ‘n wedstryd van die Proteas oor die radio uitsaai. Eintlik leer hulle al die “meganika” van die Afrikaanse taal – al daardie “vervelige grammatika” en skryfopdragte – maar dit is alles verdoesel in die pret wat Afrikaans vir hulle ontsluit. Die lesse neem kinders uit die boek en in die regte wêreld in, daar waar hulle die lewe ontdek en ervaar, alles in pure en trotse Afrikaans.

Kontak ToetenTaal

Sweden
Koppel aan sosiale media

Deel hierdie inskrywing