Klubs

Die Voortrekkers NZ

Jeugorganisasie

Die storie van Die Voortrekkers is ’n verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf. Geboue, spankamers en kampterreine het deur harde werk en innoverende denke ontwikkel tot spogprodukte.

Dit is ’n storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk. Dit is ’n storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar. Dit is ’n storie van betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike gemeenskappe.

Die Voortrekkerstorie vertel ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en hoëfunksieprestasies. Dit is ’n storie van liefde vir Afrikaans, Afrikanerkultuur, Afrikanerkinders, maar bo alles, vir die Here.

Ook is dit ’n storie van pret, kameraadskap en avontuur.

Dit is geen wonder dat Die Voortrekkers oor dekades heen gegroei het tot ’n lewenskragtige, en saakmakende kultuurorganisasie nie.

Getrou aan die oorspronklike stigtingsideale van NJ van der Merwe, Vader Visser en Japie Heese is Die Voortrekkers vandag steeds ’n toekomsgerigte jeugorganisasie wat:

Afrikanerkinders se karakter deur Bybels-Christelike waardes vorm.

  • Afrikanerkinders die geleentheid bied om hul kultuur in die natuur deur avontuur te geniet.
  • Afrikaners begelei om as oortuigde Christene nie net Bybelse waardes in hul persoonlike lewens uit te leef nie, maar ook om gemeenskapswaardes deur middel van diens, deelname en standpunte te help vorm.
  • Afrikanerkinders help om lewensvaardighede te ontwikkel om as uitnemende en diensbare leiers ’n betekenisvolle en positiewe bydrae te lewer tot die land en die kontinent.
  • Afrikanerkinders ’n tuiste bied waarin hulle Afrikaners se geskiedenis, taal, kultuur en tradisies ten volle kan uitleef en geniet.

Hierdie ideale het oor dekades neerslag gevind in die wese, waardes en strategiese doelwitte van Die Voortrekkers om jong Afrikaners as uitnemende leiers te ontwikkel.

Kontak Die Voortrekkers NZ

0123296011
57VM+5C4 Hamilton, New Zealand
Koppel aan sosiale media

Deel hierdie inskrywing